Luister gerus elke 2de week op 'n Donderdag na Malene se Afrikaanse boekresensies op Radio Helderberg.

Malene Breytenbach se nuwe roman Miskende Spioen is uit, en is beskikbaar as eboek en sagteband op Amazon.

In die tagtigerjare word sy ’n spioen vir die veiligheidspolisie, aan die kant van die apartheidsregering. Sy word ontplooi na Stellenbosch Universiteit.

Moorde, ontnugtering, verraad en vrees lê vir haar voor. Haar hanteerder is wreed en fanaties en haar spioenasieloopbaan volg vreemde paaie. Mislukkings laat haar dinge doen wat sy nooit voorheen sou gedroom het om te doen nie.

Haar lewe ontaard in ’n stryd om oorlewing in die Struggle. Sy moet noodwendig heul met die ANC en die sogenaamde liberaliste. Haar lojaliteit word uitgedaag.

Malene Breytenbach se nuutste vrystelling

Ingrid Thesen gaan saam met ’n Joodse vriendin na Israel om aan argeologiese opgrawings by Tel Abir in Galilea deel te neem. Hulle werk saam met ’n span van die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem. Ingrid raak aangetrokke tot die enigmatiese Noorweër Leif Andersson, historikus, skrywer en argeoloog.

Die Palestynse Bevrydingsorganisasie dreig om ’n bom by die Argeologiese Instituut te plant. Leif se eks-vrou maak ook haar verskyning.

Teenspoed en konflik dreig om Ingrid en Leif se ontluikende verhouding te laat ontspoor…

Malene Breytenbach se Verdiende wraak het geland!

Hierdie historiese fiksie verhaal, handel oor die vete tussen twee families ná die Boereoorlog. Die twee families is die Greeffs, wat die hensoppers was en wie se seuns national scouts was, en die Steenkamps, wat bittereinders was. 

Kommandant Steenkamp het die een Greeff-seun laat teregstel en die Greeffs neem wraak. Salomien, ’n verfynde meisie afkomstig van Pretoria, getroud met die kommandant se seun, kry bitter swaar in die konsentrasiekamp en op die gestroopte plaas. ’n Engelsman wat die Steenkamps kom help, wil haar uit die lyding verlos.

Verdiende Wraak is ook as e-boek beskikbaar.

 

Malene se splinternuwe roman Skadumagte, is op die rakke

Wanneer regter PG Pienaar in sy huis vermoor word, is ondersoekende joernalis Mysi Spies vroeg op die toneel. Haar instink waarsku haar dat die moord meer as ’n blote huisbraak was; die regter het immers kort tevore lede van ’n regse organisasie swaar gevonnis. In haar ywerige soektog na antwoorde ontdek Mysi egter meer vrae. 

Skadumagte is die opvolg op Malene Breytenbach se roman Bloedgrond wat in 2011 verskyn het.    

Die superromanza

Ou liefde nuwe liefde

Van vennoot na sielsgenoot!

Kristin Kingsley se baas en geliefde, Ray Retief, lig haar en al die personeel van Conferences Etcetera in dat hy die besigheid sluit. Boonop los hy haar vir ʼn ander vrou. 

Ontnugterde Kristin stig ʼn nuwe besigheid. Haar aantreklike buurman, Ryno Brink, die gastehuiseienaar langsaan haar huis in Stellenbosch, was nog altyd soos haar broer. 

Hy word haar vennoot en help haar om die nuwe besigheid op die been te bring. 

Malene is ‘n finalis in die ATKV-woordveertjie in die kategorie Romanses met die boek 

Sophia se beskermengel

Sophia Joubert en haar skoonfamilie keer terug na die verwoeste familieplaas na afloop van die Anglo-Boereoorlog. Geoffrey Doubell help die Jouberts om weer op hul voete te kom. Dié samaritaan is wel ’n halwe Engelsman, maar elke keer as Geoffrey na haar kyk, bruis Sophia se bloed. Haar eerste liefde lê egter begrawe in die grond van Natal en Sophia is diep gekwes. Sy sien ook in Geoffrey se oë ’n treurigheid wat nie wyk nie. Dié man ken ook verlies. Durf sy nou hoop op ’n tweede liefde? Daar heers onheilspellende spanning tussen die Jouberts en die inwoners van die buurplaas. Boonop wonder Sophia of Geoffrey werklik sy lewe met slegs een vrou kan deel, want sy is beslis nie die enigste een wat in hom belangstel nie.